die kind

Hoofstuk 1: Familie Burdens (intro) Dis nou al amper 10h30am en nog geen teken van die kind nie. So deur die jare het ek seker maar gewoond geraak aan die gewaggery vir niks en alles. Ek het jare tevore al vir die kind gesê dis ongeskik om mense te laat wag, maar soos die kind se way maar is, het hy net sy skouers gelig en weer laat val, ook maar gatvol van sy uitgedeelde lot. Hy het nie gevra om hier te wees nie en die Here weet, ek ook nie. Die dag dat die nuus hier aangeland het dat die kind hier sal moet kom bly, het soos voël poef op ‘n mooi wit geverfde tuinstoel uitgestaan, en my Pietman het maar net sy kop geskud. Ek onthou dit het hard gereën daardie middag wat Mister Jansen van die law offices op die dorp hierheen gekom het en gevra het of hy maar kan inkom. Ek het hom nog paar minute so bekyk in die reën en toe maar die sifdeur oopgemaak en die dik man het verby gewaggel. Pietman was in die garage, besig om te werk aan die kar wat hy vir ‘n appel en ui gekoop het en waaraan hy toe op die ou end meer geld moes spandeer as wat ‘n nuwe weergawe van die stuk gemors van ‘n kar sou kos. Maar nou ja. So het die dik Mister Jansen toe kom sit op my Mauve pienk sitkamer stel en vir my in my eie huis gesê ek kan maar ook sit. Pietman het net toe ingekom vir ‘n lafenis vir die droë keel en die man op en af bekyk. Hy het toe maar ook kom sit en so het ons geluister hoe my suster haar toe uiteindelik dood gehoer het. Daai tyd was die aids besigheid nog ‘n nuwe snaakse affêre, ongehoord. Mister Jansen het verduidelik omdat ek die enigste oorlewende familie lid is van Kariena, dat die plig nogal op my val om na die kind te kyk en in my sorg te neem. Dat dit Kariena se wense was. Ek het geweet die Mister Jansen trek die storie uit sy gat, want ek en Kariena het tiener jare kinnertyd laas langs dieselfde tafel gesit. Van kleintyd af, was ek en sy en Pietman beste maats. Pietman is so vier jaar ouer as ons en toe ons agtien word, het Kariena haar vergryp aan al wat man en dwelm is, net omdat Pietman my gekies het. So het sy een nag probeer om ‘n besope Pietman te bluf, te maak asof sy ek is. En die Pietman, besope dronkgat soos hy in sy jong jare was, kon toe nie die onderskeid tref tussen my en my tweeling suster nie en die twee was toe fort bed toe. Dit was vier of vyf jaar later, wat ek toe maar vir Pietman vergewe en ons verloof raak. Ons was daai dag, daai dag wat die dikke Mister Jansen die nuus gebring het, amper al vier jaar verloof. Ek was vrek bang vir die trouery en Pietman het maar geduldig gewag. Ek dink dit was hoekal omtrent ‘n maand of twee voor my ag en twintigste verjaarsdag, dat die man in my sitkamer gaan sit het en kom vertel het dat ek die kind moet gaan haal. Ek het toe maar tee gaan maak en oor ditjies en datjies gepraat, terwyl Pietman homself verskoon het garage toe na n vinnige groet. Ek het daai tyd nie eens geweet Kariena het ‘n kind gehad nie. Mister Jansen het vertel die kind was sewe maande oud en hy het nie die aardige siekte wat sy ma geneem het nie. Die kind se pa was lankal dood, homself gehang nog voor die bloedtjie se geboorte. Na my ouers dood is op my 22ste verjaarsdag, het ek die huis ge’erf en die geld. Nadat Kariena keer op keer van hulle gesteel het, het hulle haar onterf. Mister Jansen het toe so net voor vier in die middag vir my gesê ek moet ‘n begrafnissie reel en dan die kind kom haal by die se foster huis. Daardie aand, was daar ‘n doodse onseker stilte in die kombuis terwyl Pietman net na sy bord kos gestaar het. Dit was na aandete en voor poeding, wat hy uiteindelik praat. ‘Maryna, ek weet nie van die kind grootmaak storie nie. Nie nou nie. Ons het dan besluit ons wil nie kinders hê nie, wat nog te sê jou suster s’n grootmaak. Nee Maryna, die ding gaan nie werk nie.’ Hy het sy malva poeding eenkant toe geskuif en in die garage onder sy stuk gemors van ‘n kar gaan wegkruip. Nou kyk, lief was ek baie vir daai Pietman, maar al wou ek nooit kinders gehad het nie, wat sal dan tog van die kind geword het as sy eie bloed hul rug op hom gedraai het? Daai week het verby gegaan in stiltes en oë wat vrae vra sonder antwoorde. Die Donderdag daarop het ek alleen begrafnis toe gegaan. Dit was net ek en die ondernemer, maar tannie Dot van oorkant die pad, het darem opgedaag. Antie Dot, kon altyd op haar staatmaak. Daar in die motreën het ek en Antie Dot ons beste probeer om te huil, maar die trane wou nie kom nie. Dit was die winter van ’84. Ek het daar langs die oop graf gestaan en dink hoe mens altyd dit as so groot eer sien om as peetpa of peetma benoem te word, maar nooit dink jy dat jy actually iemand anders se snotneus moet grootmaak nie. Nie dat ek ge’volunteer het nie. En toe, sommer net so, is Kariena dood, sonder ample warning. Vel en been wat nou deur wurms geëet gaan word in nat grond. En daar staan ek, vrek bang om te gaan, bloot omdat ek weet ek moet die kind gaan haal. Ek het teen daai tyd al geweet Pietman sien nie kans vir die hele pa wees storie nie, wat het ons anyway geweet van kinders grootmaak? Ons het toe nog lekker geparty tot laatnag saam met Kim en haar man Flip en Saterdae laat geslaap. Ons tyd was ons eie. Mister Jansen het gesê die mense by die Hospice het gesê Kariena het sommer net eendag weggeraak en toe vind die gardener haar in die hoek van die tuin, vrek soos ‘n mossie se baba wat uit die nes geskop was. Soos ‘n sleg hond, het sy gaan vrek op haar eie. Mister Jansen het gewag by sy kantoor en ek het vir Antie Dot gaan aflaai en nie eens die bakkie voor my en Pietman se huis gesien nie, ek het ook nie gesien hoe hy sy meubels laai op die ou bakkie nie of hoe hy die deur sluit en die sleutel onder die blou pot met die varing in, sit nie. Toe is ek en Mister Jansen toe maar so saam saam na die foster huis en ek het heeltyd gekarring met die soom van my grys bloes. Die eerste ding wat die foster vrou vir my sê is dat ek lyk soos Pamela Ewing op Dallas. Nie ‘hallo’ nie, nie ‘Jammer om te hoor van jou suster nie’. Nee, ek lyk soos fokken Pamela Ewing. Ek het niks gesê nie en die vrou, ek dink haar naam was Erica, het toe maar geloop na die kamer waar die kind gelê het in sy wiegie. Die bietjie goed wat hy gehad het, het alles in ‘n Shoprite sak gepas. Die kind het so baie na my oorlede pa getrek en toe ek hom optel, heel onhandig, het hy bietjie geglimlag en ek wou skreeu. Die vrou, Erica, ja ek dink dit was haar naam, ek is seker daarvan, het my vertel van sy roetines en so aan, maar al wat ek wou doen is om die kind vir haar te gee en weg te hardloop. Sy ken sy so-called roetines dan al klaar so goed. Maar ek het maar gegroet en die kind op die agter sitplek neergelê en toe besef ek sal iets soos ‘n karstoeltjie moet kry. Ek vat toe maar weer die kind binne toe en vra of Erica maar nog paar uur kan kyk na die kind, ek moet goed gaan koop vir hom, onder andere ‘n karstoeltjie. Die vrou was baie impressed met wat sy as moederlike instink aanvaar het, terwyl ek eintlik net wou vlug en my fate wou vermy vir nog ‘n paar uur. Op die ou end het ek baie meer goed gekoop as wat seker nodig was. En na ‘n eensame ete by die Wimpy, het ek met ‘n swaar hart terug gegaan en die kind gaan optel. By die huis was daar geen stukkende kar in die garage meer nie. Geen mansklere in die mandtjie nie en geen Pietman meer nie. Nie eens sy geliefde langspeel plate was meer in die sitkamer nie. Op die kombuis tafel was daar ‘n nota. Te veel gevra. Die woorde is al wat ek onthou van sy blad lange nota. Sy woorde sou anyway nie saakmaak nie, solank soos die kind hier was, sou hy nie terugkom nie. En toe, terwyl die trane nog rol van my wang oor Pietman, begin die kind huil en ek weet, hierdie is my nuwe lewe nou. As ek maar net geweet het.