winter wolf

Elias weet presies hoeveel glase hy moet drink om heeltemaal te vergeet, om heeltemaal op te hou onthou. Hy weet presies hoeveel minute daar in die ure verby tik, hy weet amper sonder enige berekening hoelank dit sal vat voor die realiteit weg smelt en die droom sy enigste realiteit word. Dis vannag die 33ste nag wat dit gebeur. Hy leef nou net vir die nagte en die droom. Die droom wat sy hele wese oorgevat het en sy elke gedagte beheer. Hy maak sy oë toe en soos gisteraand, soos die 32 nagte voor vanaand, gaan soek hy haar. En soos elke nag, kom vind sy hom.

Hy was maar nie eens lank in sy 28ste jaar toe hy Eva gevra het om te trou. Hy het Eva gehaat en lief gehad in eweredige volumes. Maar meestal het hy gehaat dat hy haar so liefhet. Was dit hy wat die swakkeling was of was dit Eva? Maar was dit nie hoekom hy haar lief gehad het nie? Iemand wat nie so slim was om te sien dat hy nie regtig die moeite werd was nie? Iemand wat sê ‘Hallo my pragtig’ en nie weet dat hy swart was van binne nie? Voor die troue het sy gedoen wat hy nie kon nie. Sy het geloop. Sy het ingekom, verby die trourok en kamer vol trou décor en haar goed gepak terwyl sy gehuil het van woede en haat en liefde se rou seer. Al wat sy kon sê vir hom was dat sy opgee, sy manic depression en weerbarstige moods is te veel en dat as hy nog meer sosiaal wou wees met haar mense in haar lewe en haar meer emosioneel sou inlaat, sou sy hom nog romanties lief gehad het. En toe los sy hom net daar in die kamer vol trou décor, stukkende drome, ‘n stukkende man.

Dit het Elias ‘n lank tyd geneem om dinge te verstaan. Om dinge te verwerk. Maar meestal het hy saans na ‘n voldag van gesig opsit en ‘ek is okay’, in die huis rondgedwaal en onder die komberse ingekruip met ‘n bottel goedkoop troue wyn en geweet dat dinge nie beter raak of minder seer nie. ‘n Mens raak net meer gewoond aan die pyn. En dis toe dat dit gebeur. Daai eerste keer het hy geglo hy kan dalk weer begin leef, al is dit net in die droom.

Die winters nag was kouer as gewoonlik en die seer dieper. Die bottel wyn was leeg en in daardie noue spasie tussen wakker en slaap het hy haar gevind. Sy het die hitte saam met haar gebring en haar hare was hard en sag terselfdertyd en haar geel oë het gesmeek dat hy saam moet gaan. Sy was soveel groter en sterker as hy en sy het sonder woorde gesê sy kan hom vat waarheen hy wil gaan. Hy het nie gedink dis moontlik nie en het vir haar gesê dat hy klaar was waarheen hy steeds wil gaan en tog dink hy nie hy sal dit oorleef om weer soontoe te gaan en nog erger, ook nie as hy dit nie doen nie. Sy het hom op haar rug getel en begin loop in die rigting van die volmaan. Hy het sy hande om haar nek geslaan en sy het vinniger begin beweeg tot hulle teen die spoed van ‘n gemaklike gebroke hart beweeg. Als om hom was bekend en tog, na al die tyd was dit so vreemd. Die reuk van hul laaste maaltyd saam het die lug gevul terwyl hy die bad vol water sien waar hy alleen gesit het toe sy weer een aand uitgestorm het, opsoek na antwoorde enige ander plek as naby hom. Sy het aanhou hardloop teen ‘n pas waar hy net genoeg kan sien sonder om te voel.

Vir 33 nagte het hy weer gelag, geswem in haar ma hulle se middelklas huis se swembad, baklei by haar pa se 60ste se verjaarsdag, familie etes bygewoon, met die kanoe gevaar op Kleinmond se lagoon, dvd’s gekyk en tente gebou met komberse soos kinders, soentjies gesteel en verlore gevoel wanneer sy sug en nie eens meer terug baklei nie en hy het selfs gesien die dag toe hulle die hond gaan aanneem het, teen haar wil.

En dan, dan sou sy hom terug vat net voor die oggend die aand kom breek en hy sal die dag verby wens net met die hoop om haar dalk weer te sien. En wanneer hy in die kamer kom en sy masker afhaal, sit hy musiek aan, vul sy glas en wag vir haar onder die komberse om hom te kom haal. Na die sesde keer het hy presies geweet wanneer sy kom en waarheen hul gaan. Soms het sy hom verras en ‘n roete gevat waarvan hy al vergeet het en soms, soms het sy die moeilikste roete herhaaldelik gevat. Soms het hy haar gesmeek en gesoebat om nie weer daardie pad te volg nie en sy het net haar kop geskud en dit weer gedoen. Die prentjies van hul lewe saam het elke keer gekom.

Na die 23ste keer het hy opgestaan en anders gevoel. Nie beter of slegter nie, net anders. Sy masker het ‘n kraak in dit gehad en hy het net vir ‘n split sekonde gedink om dit by die huis te los, maar teenstrydig maar weer opgesit. Teen die oggend kon hy nog die reuk van haar parfuum ruik, maar dit het nie meer so swaar in sy gemoed gehang nie. Hy is so naby aan die antwoord waarna hy so lank gesoek het sonder dat hy eens geweet het hy soek daarna.

Vanaand is hy reg, want hy weet hy gaan die antwoord vind vanaand. Sy het gekom presies soos al die kere voor vanaand. Haar hare was wild en deurmekaar in geen spesifieke rigting nie en haar oë het geglinster in die maan se dowwe lig en haar tande was skerp en hy het geweet vanaand sal die laaste keer wees wat sy na hom toe kom. Haar vier pote was reg vir die hardloop en die antwoorde het op die punte van haar skerp tande gelê en wag vir hom. Gewag dat hy sy hand insteek en dit stadig vat, een vir een. Die wolf het gewag dat hy opklim voor sy hom weer deur Eva se gedagtes en emosies vat, soos die 32 kere voor vanaand. Die eerste keer kon hy nie regtig verstaan hoekom die prentjies bietjie anders is as wat hy dit onthou het nie, maar teen die vierde keer het hy besef die wolf vat hom deur Eva se gedagtes, Eva se ervaring, Eva se seer, Eva se trane en sy eie swart wat groei soos giftige Ivy in haar hart. En toe, toe verstaan hy dat sy nie gegaan het oor sy hom nie lief het nie, maar oor sy het en dat sy moes gaan, die swart en swak in hom sou dit vernietig het met tyd. En die antwoord waarna hy die meeste gesoek het, het gekom net toe die winter wolf hom sag neergelê het in sy bed voor die son voor sy vensterbank kom lê het saam met die koue oggend dou. Hy het haar bloot lief gehad oor hy nie lief was vir homself nie. En Eva het dit geweet.

Hy het wakker gelê en weer deur sy eie herinneringe gegaan en hul anders gesien. Net na ses het sy foon gelui en hy het Eva se nommer sien flikker op die maat van een of ander simpel popliedjie en iemand het aanhoudend aan die deur geklop, maar hy kon nie meer opstaan nie. Die winter wolf het hom nie weer kom haal nie en tog was sy daar. Op die amptelike verslag het gestaan dat Elias Killian du Toit was reeds oorlede teen die tyd wat hulle die deur oopgebreek het. Dat die dame, Eva Naude 33 minute na 6 in die oggend op die stoep histeries sit en huil het met ‘n half bred brak op haar skoot.  Sy het woorde deurmekaar gemompel dat hulle het die vorige aand ‘n argument gehad oor hul troue en sy het uitgestorm met ‘n sak vol klere. Maar sy sou terugkom. Sy het altyd terug gekom. Maar niemand kon uitmaak wat sy eintlik sê tussen die histeriese krete nie. Daardie nag het sy haar masker afgehaal en in hulle bed geklim en gestaar na die 33 leë bottles op die grond en die trourok wat teen die kas hang. Hoe kon als so drasties verander in ‘n paar uur, in een winters nag? Terwyl sy groot slukke uit die 34ste bottel, die laaste bottel in die huis, gelê en drink het, het sy in die stadium tussen slaap en wakker die wolf gevind. En op die wolf se rug het Elias gesit en gevra of sy wil saamkom. Sy het opgeklim en gefluister in sy oor, ‘Hoe dan nou anders, jy het dan gesê veraltyd en altyd’.