voshaarnooi en ballades

Dis n baie lank tyd sedert ek enige iets in my moedertaal geskryf het en vandag, vandag toe vind die woorde my, nes jy my keer op keer kom vind.

Ek luister na die liedjie van Francois van Coke en Karen Zoid en ek sien jou glimlag soos jy staar na my waar ek sit en werk by my lessenaar. Hoe ek tot hier gekom het, weet ek nie, maar jy het my kom vind hier waar ek nou sit. In die nag van modder voete het jy kom klouter oor die ruigtes van al my gisters en n more kom bou vir my. As ek dink aan wie ek was n paar maande terug, so anders en nou, nou dat ek is wie ek al lankal was, het jy opgedaag en elke dag herinner jy my aan wat liefde is, wat eerlikheid is. Wat dit is om opreg jouself aan iemand te gee. Ek is heeltemaal oorgegee aan die genade van jou liefde. Jy verstaan nie altyd my woorde/taal nie en gisteraand vertel jy my n storie in gebroke hartstaal… jy het die moeite gedoen om my taal te leer praat as a surprise vir my. Jy vra my in my wereld om hierdie woorde in ons taal te skryf, want jy wil dit later lees, wanneer jy ten volle verstaan… jy lag terwyl jy die skons eet wat ons gebak het en fluister: ek jou dit lees die mooi gou. Ek dink jy bedoel jy gaan die woorde binnekort kan lees. Jy is godweet pragtig, mooier as wat ek jou ooit kon oopdroom in die mooiste dele van droomland.

Ek vertel jou in die stil ure van ons nagte saam hoe ek mal was oor Ballade vir Enkeling en dit graag weer sal wil kyk. Jy het wragtig die reeks vir my gevind en my belowe ons kan die film kyk. Jy sê in jou shitty Afrikaans dat ons kan vry in die fliek, in die agterste ry. Jy is so kosbaar vir my. Jy laat my Heuwels Fantasties hard in jou Jeep speel en lag lekker as ek my eie woorde opmaak. Jy noem my jou voshaarnooi en ek lag want ek dink nie een van ons weet regtig wat dit beteken nie. Maar ek, ek is verlief op die kind.

Soos Francois van Coke sing, ‘geen pretensie en geen beheer’. Hierdie liefde is een vir die boeke. Die mense voor jou se skaduwees is vervaag en jy teken prentjies teen die mure van my hart en sit koekies en melk uit vir my siel. Jy fluister jij bent mijn liefde en tussen hierdie taal restrictions vind ons ons eie taal, mooier as enige ander een.

Jy vee al die vrae uit wat ek voorheen in my gehad het. Ek kyk na jou gesig en ek weet. Ek fokken weet. Ek het geen vrae vir jou nie. Jy wys my als voor ek eens kan begin wonder. Vanaand sit ek saam met jou terwyl jy werk en elke nou en dan kyk ek op, ek sien hoe jy smile sonder om my kant toe te kyk. Jy weet.

Jy weet en ek weet. Jou mislukke kat Franze weet. Die honde weet.

Hier is nie meer n enkeling nie, geen vreemdeling nie. Maar hierdie, hierdie is wel ‘n ballade. Ek is lief vir jou. And darling, you are also jij bent mijn liefde. 🙂